Monday, 2 March 2015

Die mens is 'n dom dier.

So, ek het sopas 'n artikel oor 'n "gay cure" kamp gelees. Basies stuur ouers hul homoseksuele seuns na hierdie kamp, waar die kampleiers die seuns in sogenaamde "manne" verander. Hierdie kampleiers het die dood van drie seuns veroorsaak.

Hierdie artikel het my verskriklik ontstel omdat ek self as homoseksueel identifiseer. Dis moeilik om nou selfs hierdie inskrywing te maak en terselfdertyd te verseker dat dit koherent is, want my gevoelens is all over the place. Dit is absoluut onherroeplik belaglik dat mense dink dit is moontlik om 'n kind na 'n kamp te stuur sodat hulle "reg" kan kom. Die hetero-normatiewe houding is wat die absolute pyn in my bestaan is.

Ek weet regtig nie hoe enige iemand kan dink dat gay mans/vrouens kies om hulself deur hierdie diskrimansie en vernedering te sit nie. Gay wees is nie 'n opsie wat jy kan kies nie. Ek is veral disgusted deur die ouers wat hul eie kinders deur hierdie hel sit. Ek het geen respek vir jou as ouer as jy meer bekommerd is oor die kind se seksualiteit as sy welsyn. Ek weet ek moet die beter mens wees, maar ek sal daai ouers nooit kan vergewe vir wat hulle aan hulle kinders gedoen het nie.

Ek weet glad nie wat om te sê oor die idee van die samelewing dat mens gay wees kan kuur nie. Ek het alle geloof in die mens verloor. Dankie wêreld.

Wednesday, 25 February 2015

Tegnologie in die onderwys

Ek moes vandag die opdrag oor die rol van tegnologie in die Suid-Afrikaanse klaskamer doen. En met die afloop van hierdie taak besef ek hoe 'n kardinale rol tegnologie kan vervul in die klaskamer. Met die oneindige toegang tot hulpmiddels op die internet asook die integrering van tegnologie in klasaanbieding kan die onderwyser se taak van klasaanbied vergemaklik word. Die onderwyser kan in die proses meer aandag skenk aan hoe om die inhoud aan die leerders oor te dra. Om tegnologie in die klaskamer te gebruik beteken ook die leerders raak meer bekend met tegnologie en word sodoende nie so ontnugter wanneer hul na skool met tegnologie in kontak kom nie. Maar as 'n mens na Suid-Afrika gaan kyk is dit nie juis so maanskyn en rose nie. Ek dink nou terug aan my eerstejaar toe 'n meisie my in die Inligtingsvaardighede eksamen vra hoe om te right click. Dit wys duidelik hoe ongelyk hierdie toegang tot tegnologie in Suid-Afrikaanse skole is. Dit breek my hart dat ons land nie genoeg doen om hierdie leerders aan tegnologie bloot te stel nie. 

Ek dink dis tyd dat ons as land na die gebruik van tegnologie in die klaskamer moet kyk. Maar terselfdertyd ook daarin belê om alle leerders regoor die land toegang tot internet te verseker, 

Thursday, 12 February 2015